Tydens hul verskyning op Maandag 24 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley is van links Lucky Bohelo, Kerneels Persent en Nicardo Mark Hutama (Meksiko).

Foto: Charné Kemp

Die derde beskuldigde in die saak waarin hy en twee vermeende makkers van die moord op Attie Jooste op sy kleinhoewe buite Jan Kempdorp in 2018 verdink word, gaan Dinsdagoggend 25 Februarie, vergesel deur die polisie, na ’n getuie soek om in sy verdediging te getuig.

Die getuie, ene Keitumetse, is glo Nicardo Mark Hutama (Meksiko) se “laaste hoop” om vrygespreek te word.

Hutama word saam met Lucky Bohelo en Kerneels Persent van moord en roof met verswarende omstandighede aangekla. Al drie is in aanhouding nadat van hulle vroeër hul borgtogvoorwaardes oortree het en nie by die verhoor opgedaag het nie.

Hulle het na bewering rondom Saterdag 7 Januarie 2018 vir Renier Adriaan (Attie) Jooste op sy kleinhoewe buite Hartswater met ’n mes of soortgelyke voorwerp in die bors doodgesteek en beroof. Sy vermiste goedere is ’n Chevrolet-bakkie, geheuestokkies, drie selfone, klere, ’n beursie met bankkaarte, ’n wisselrigter, boor, luidsprekers, TV-stelsel, videokamera, ’n boks Harrier-whiskey, naskeermiddel en ’n sak met eetgerei.

Vroeër in die verhoor het hulle in die getuiebank enige kennis van die moord ontken. Hulle het eerder die skuld op ene Batman, ’n gemeenskaplike kennis en een se buurman, gepak. Uit getuienis blyk dit dat Batman die polisie ure ná die moord ontbied het weens die beskuldigdes se verdagte optrede waar hulle whiskey by ’n hoenderplaas in die omgewing, wat aan Hutama se familie behoort, gedrink het.

Kerneels Persent (links) en Lucky Bohelo op Maandag 24 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley.

Die staat voer aan Jooste se verlate motor is op die betrokke dag sowat 300 m van sy huis gevind. Die polisie is ontbied, wat Jooste se lyk in die huis gevind het. Terwyl konst. Stefaans Mangate op die toneel was, het hy inligting oor die oorledene se besittings ontvang waarna hy na Hutama se eiendom is. Daar het hy van die oorledene se goedere in die huis in besit van die drie beskuldigdes gevind.

In sy getuienis het Hutuma aangevoer dat hy die Saterdag heeldag by sy gesin in Pampierstad was en eers Sondagoggend teruggekeer het Jan Kempdorp toe, maar sy broer het dit in sy getuienis weerspreek. Hutuma sê hy en sy broer sit nie langs dieselfde vuur nie, vandaar die teenstrydigheid.

Adv. Kelly Nxumalo wat vir Hutama optree, het Maandag 24 Februarie aan die hof gesê dat hy vir ene Keitumetse as getuie wil roep om te bevestig dat hy op die betrokke tyd in Pampierstad en nie Jan Kempdorp was nie. Die ondersoekbeampte het glo al gaan soek na Keitumetse, maar die eienaar van die huis waar sy sou woon, ontken dat hy haar ken.

Hutama wou ook al sy pa as getuie roep, maar sy pa ontken dat hy weet waar sy seun op die betrokke dag was.

Dit kan tot Hutama se nadeel wees, het regterpresident Pule Tlaletsi opgemerk. Die regter kan nie getuies dwing om te getuig nie.

Nicardo Mark Hutama (Meksiko) in die beskuldigdebank.

Adv. Mary-Ann Engelbrecht, aanklaer, het voorgestel dat Hutama se pa die polisie help soek na die getuie.

Nxumalu het ook versoek dat Hutama se broer wat in Christiana bly, na Keitumetse gaan soek.

Regter Tlaletsi het die saak laat afstaan sodat die ondersoekbeampte meer duidelikheid oor die reëlings kon gee.

Nadat die hofsitting hervat is, is voorstelle deur die staat en verdediging gemaak, waarna die regter gelas het dat die polisie vir Hutama, wat as verhoorafwagtende in die polisie se sorg is, na Pampierstad bring om na Keitumetse te soek omdat hy weet waar sy bly.

Die staat en verdediging het Vrydag 28 Februarie betoë gelewer. Die uitspraak is tot 15 Mei uitgestel

Adv. Renier Pieterse tree vir Bohelo en adv. Tau Mokgwera vir Persent op.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article