Atleet spring uit bo die res

’n Jong hoogspringatleet van Kuruman spring oor elke dwarslat wat oor sy pad kom om sy gemeenskap trots te maak.


’n Jong hoogspringatleet van Kuruman spring oor elke dwarslat wat oor sy pad kom om sy gemeenskap trots te maak.

SKOOL

Jacque Kortman Foto: Alzane Narrain

Vandat Jacque Kortman (9), ’n gr. 4-leerling aan die Laerskool Wrenchville, vir die eerste keer aan hoogspring op sy skool se kleureatletiek-byeenkoms deelgeneem het, ryg hy die een na die ander medalje in.

Jacque, van die woonbuurt Promise Land tussen Wrenchville en Mothibistad, sê hy het altyd net aan wedlope deelgeneem, maar dae voor hy aan sy skool se kleuresport moes deelneem, het sy ouma, Rita Ludick (60) hom aangeraai om hoogspring te probeer.

Jacque sê hy en sy niggies het een middag buite sy ouerhuis hul wedlope geoefen.

“My ouma het gesê ek moet ophou soos ’n perd hardloop en hoogspring doen,” sê die skaam seuntjie.

Sonder enige ondervinding in hoogspring het hy op 31 Januarie op die Laerskool Wrenchiville se sportdag met sy eerste sprong die eerste plek in sy ouderdomsgroep behaal.

SKOOL

Jacque Kortman tydens ’n oefensessie by Alan Reed op die Laerskool Seodin-sportgronde in Kuruman. Foto: Alzane Narrain

Jacque is verkies om aan die Gamagara-streek-atletiekbyeenkoms deel te neem, waar hy ook goud verower het. Daarna het hy die streek op die John Taolo Gaetsewe-atletiekbyeenkoms verteenwoordig en het weer ’n goue medalje verower.

Op die Noord-Kaap-atletiekbyeenkoms het hy ’n tweede plek behaal.

SKOOL

Jacque Kortman oefen onder die wakende oog van Alan Reed, ’n onderwyser aan die Laerskool Seodin in Kuruman. Foto: Alzane Narrain

Jacque gaan nou die provinsie tydens die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskapsbyeenkoms van 25 tot 28 Maart in Bloemfontein verteenwoordig.

Hy is die enigste hoogspring atleet van die JTG-distrik wat gekwalifiseer het om aan die Suid-Afrikaanse skole-atletiekbyeenkoms in hoogspring in sy ouderdomsgroep deel te neem.

“Dit is vir my onbeskryflik. Ek het nooit gedink ek sal so goed doen nie.”

Hy sê hy wil Alan Reed, ’n onderwyser aan die Laerskool Seodin in Kuruman, bedank vir die tyd en ondersteuning om hom voor te berei.

Hy sê hy wil Reed, sy ouers, Ronnie en Ronella, en sy gemeenskap op die byeenkoms trots maak.

SKOOL

Jacque Kortman met Alan Reed, ’n onderwyser aan die Laerskool Seodin in Kuruman. Foto: Alzane Narrain

You need to be Logged In to leave a comment.