Voornemende kunstenaars het nog tot 31 Desember tyd om hulle vir ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in 2025 in te skryf.
Oor die afgelope vyf dekades het Crescendo gehelp om die musikale loopbane van kunstenaars soos Rina Hugo, Riana Nel, Jak de Priester, Anna Davel, Anneli van Rooyen en Karin Hougaard ’n hupstoot te gee.
“In plaas van ’n talentkompetisie waar net een persoon as ’n wenner aangewys word, fokus ATKV-Crescendo nou op die ontwikkeling van musikante, want talente is nie gegee om teen mekaar mee te ding nie, maar eerder om mekaar daardeur te verryk,” sê Morné van Staden, projekorganiseerder.
“Deur die jaar woon ’n aantal finaliste slypskole by om hulle voor te berei op ’n loopbaan in die kunste. Daar word ook klem gelê op nuutskeppings, aangesien kunstenaars liedjies moet inskryf wat uit hul eie pen kom.”
Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendoproduksies te begin, wat nuwe produksies bystaan en finaliste help om liedjies, albums en musiekvideo’s bekend te stel.
Hierdie produkte kan op aanlyn platforms soos YouTube gesien word en liedjies word op radiostasies en stroomplatforms soos Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer vrygestel.
“Op hierdie manier,” verduidelik Van Staden, “voorsien ATKV-Crescendo ’n konstante vloei van nuwe stemme, kunstenaars en liedjies vir die Afrikaanse musiekindustrie.”
Hoewel die finaliste dit eens is dat die mentorskapprogram hul musikale loopbane ’n hupstoot gegee het, is die persoonlike groei wat die kunstenaars hierdie jaar ervaar het nie te versmaai nie.
Lize-Marié Naudé vertel dat sy gedink het dit gaan “cool” wees, maar “nie só cool nie”.
“Ek kon net myself wees. Dit was nie nodig om voor te gee nie. Ek is aanvaar net soos ek is en dit is wat die mooi van musiek en musikante is Z ons bring die beste in mekaar uit. Die ATKV-Crescendo-familie is nou die een familie wat ek nie gaan los nie.”
Meer selfvertroue is wat vir Lester Paulus (aka Crimson Hozai) uitstaan as hy die persoonlike groei wat hy hierdie jaar ervaar het, moet beskryf.
“Ek het meer vertroue in myself, die tipe musiek wat ek skryf en die tipe kunstenaar wat ek is. Ek kan ook nou oor enige onderwerp skryf en rap. Na dese verstaan ek dat my mening van ander s’n verskil en ek is oukei daarmee.”
Voornemende finaliste kan hul inskrywings digitaal instuur, maar daar is ook talentsoekers in verskillende dele van Namibië en Suid-Afrika wat oudisies in persoon hou indien deelnemers dit verkies.
Die inskryfproses werk soos volg: Besoek crescendo.org.za indien jy ’n digitale inskrywing wil doen. Hier sal jy ook kontakbesonderhede kry van talentsoekers in Suid-Afrika en Namibië indien jy eerder ’n oudisie in persoon wil doen. Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is 31 Desember.
Uit hierdie inskrywings word 25 finaliste genooi na ’n omvattende mentorskapprogram tydens die Maart-April-skoolvakansie.
Die doel van hierdie weeklange mentorskapprogram is om die finaliste toe te rus met genoegsame kennis en kundigheid om hul loopbane af te skop hetsy hulle deurdring na die volgende ronde of nie.
Na afloop van die mentorskapprogram word daar tien finaliste uit die 25 gekies. Hierdie tien finaliste tree in ’n reeks produksies op gedurende die jaar.
Tydens ’n finale slypskool kry finaliste loopbaankartering en een-tot-een-onderrig, want hierdie groep is die mense wat met die ondersteuning van Crescendo hul musiekloopbaan begin.


