Betrokkenes by die prysuitdelingfunksie wat Saterdag (24/09) in Hashvalley, Upington, plaasgevind het.

Foto: Facebook / Upington Concerned Citizens Credit: SYSTEM

’n Tuinmaakprojek wat net meer as ’n jaar gelede in Rosedale en Hash Valley in Upington begin het, het volgens inwoners reeds ’n “ongelooflike verandering” gebring.

Boonop kon die tuinmakers Saterdag (24/09) regstaan om pryse in ’n tuinboukompetisie te ontvang.

“Van ashoop tot tuin” is die beginsel waarop die tuinmaakprojek van Ronel Brou en andere gegrond is. Brou vertel hoe die woonbuurte gelyk het, “was net te erg.” Deur rommelhope in tuine te omskep met plantjies wat oral gevra en ontvang is, het al meer inwoners begin help en self tuin begin maak, wat trots en hoop gebring het.

Saterdag is pryse in verskillende kategorieë oorhandig.

“Elkeen wat deelgeneem het, het iets ontvang,” sê Brou, en behalwe kunsmis en bome, is groentesaad ook uitgedeel.

Volgende is juis ’n groentetuinprojek waar inwoners die tuine in hul agterplase gaan aanlê.

“Deur die skenking van die groentesaad het ons die gemeenskap motiveer om onmiddellik met hul groentetuine te begin,” vertel Brou.

Sy sê enige skenking om blom- en groentetuine te maak, is welkom.

  • Besoek die Facebook-blad Upington Concerned Citizens vir meer foto’s oor die projek.
  • Bel Brou by 073-018-8586 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article