Dr. Ambrosius Swartbooi glo dat as ’n mens nie probeer nie,
“hoe op aarde gaan jy weet of jy dit nie dalk kan doen nie.”
Swartbooi, ’n kwadrupleeg, is in Desember as hoof van die radiologie-eenheid
by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley aangestel.
Hoewel die motorongeluk op 16 Desember 2006 in Willows,
Bloemfontein, sy mediese loopbaan tydelik ontwrig het, het hy gou besef dat
daar steeds dinge is wat hy kan en wil doen, al is hy in ’n rolstoel.
Dié voormalige hoofseun van die Hoërskool Mariental in
Namibië was ná vyf jaar van mediese studies aan die Universiteit van die
Vrystaat (UV) met sy tweede jaar van mediese internskap besig toe die ongeluk
gebeur het. Hy was toe 22 jaar oud.
Direk ná die motorongeluk was hy vir twee maande in ’n
hospitaal in Bloemfontein – onder meer in die intensiewesorgeenheid – en daarna
vir meer as drie maande in rehabilitasie.
Toe reeds het Swartbooi besef dit gaan oor die
spreekwoordelike klein stappies en uit eie ondervinding is sy raad aan ander
kwadrupleë “om die kopskuif te maak.” Tydens sy herstelperiode het hy beleef
dat mense om hom “net gaan lê” en hulself afsonder.
Swartbooi, wie op nasionale skoolvlak aan atletiek en rugby
deelgeneem het, het besluit hy gaan nie dieselfde pad volg nie en terwyl hy nog
in rehabilitasie was, het hy met spesiale toestemming en reëlings ’n
rugbywedstryd tussen die Cheetahs en die Stormers by die rugbystadion in
Bloemfontein gaan kyk. Hy is op ’n ambulansbed vervoer en het ’n deel van die
wedstryd uit sy rolstoel gekyk.
Swartbooi het ook daarop gefokus om diegene in ’n
soortgelyke situasie as hy aan die beweeg te kry.
Steeds loopbaangerig
Hy kon vir die duur van 2007 nie met sy internskap voortgaan
nie, maar ’n hoogtepunt van daardie jaar was sy huweliksbevestiging met
Susan Morgan, ’n verpleegster en oorspronklik van Kimberley, wat by die
Kalahari Lodge in die Diamantstad plaasgevind het.
In Januarie 2008 het hy in die kantoor van die mediese
superintendent by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein begin werk waar hy
met allerlei administratiewe pligte gemoeid was.
In Augustus daardie jaar het hy skaduwerk by die dokters van
die radiologie afdeling begin doen omdat hy geensins van plan was om van sy
mediese loopbaan afstand te doen nie.
Weens Swartbooi se gestremdheid het hy die keuse van
patologie, psigiatrie of radiologie gehad en sy keuse het op radiologie geval.
In Januarie 2009 het hy by die radiologie-afdeling van
Universitas begin werk en weer sy studies aangepak. Intussen het hy ook
Suid-Afrikaanse burgerskap gekry.
In November 2014 het hy sy finale radiologie eksamen vir sy
meestersgraad in medisyne (MMED) afgelê.
As kwadrupleeg het hy sy eksamens geskryf terwyl hy die pen
met albei hande vasgehou het.
In 2016 het Swartbooi die navorsingskomponent van sy
spesialisasie in radiologie voltooi en in Desember sy MMED-graad behaal.
Maar weens administratiewe kwessies het die Health
Professions Council of South Africa (HPSCA) sy registrasie as spesialis in 2017
afgewys, en ongeag talle korrespondensie in die verband, was Swartbooi se
enigste opsie om as spesialis te kon registreer, om die College of
Medicine-eksamen af te lê.
So het hy die eksamen suksesvol voltooi en vir die tweede
keer – in Mei 2018 – gegradueer en in Junie 2018 is hy as ’n spesialis
geregistreer.
Swartbooi het in Augustus 2017 reeds as ’n mediese beampte
by die RMSH begin werk en later as ’n spesialis.
Tot in November 2018 het hy saam met twee ander spesialiste
in radiologie by dié provinsiale opleidingshospitaal gewerk.
Sedert hul aftrede is Swartbooi die enigste spesialis in dié
veld vir die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid. Hier is hy elke dag en
na-ure aan diens en die enigste een wat sake in die afdeling kontroleer, na-ure
bystand verleen, en talle administratiewe take verrig.
Gelukkig bly hy naby die hospitaal, het direkte
internetverbinding en kan ook van die huis af werk.
Tegnologie en die opgang van digitale platforms het sy
werkswyse baie makliker gemaak en sy werk is meestal op rekenaars.
Behalwe die interpretasie van onder meer X-strale, sonars,
mammogramme, deurligtings, CT- en MRI-skanderings by die RMSH en die hantering
van verwysings van distrikshospitale, is hy ook vir die interpretasie van onder
meer CT-skanderings van die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington
verantwoordelik.
Swartbooi is ook deurlopend by die akademiese ontwikkeling
van mediese beamptes in sy eenheid betrokke en ook onder meer by die
samestelling van lesings vir derde en vyfde jaar mediese studente by die UV, en
die samestelling en merk van eksamenvraestelle.
Elke pasiënt verdien tyd
Sy doelwit is om ten minste twee spesialiste en tien mediese
beamptes in sy eenheid te hê, wat ook in Upington kan werk.
“Vir eenvoudige ondersoeke van tien minute moet pasiënte van
byvoorbeeld Springbok 1 200 km aflê. As ek iemand in Upington kan hê, sal dit
geweldig help.
“Elke pasiënt verdien tyd en aandag. Elkeen moet volle diens
ontvang,” sê hy.
Swartbooi visualiseer ook ’n maandelikse uitreik na die
distrikte vir die lewering van dienste vir onder meer ultraklankskanderings en
X-straal ondersoeke. Hy sal ook graag wil sien dat spesialis-opleiding van
mediese beamptes, in samewerking met die UV, by RMSH plaasvind.
“Tydens mediese studies kry hulle geen blootstelling aan
radiologie nie. Vir hulle is dit ’n onbekende terrein en dit neem een tot ses
maande om basiese bevoegdheid daarin te bereik,” sê hy.
Hy sal ook graag wil sien dat mediese beamptes in opleiding
by die UV op ’n rotasiegrondslag by RMSH betrokke raak, wat ook ekstra
blootstelling vir hulle is.
“Het jy al probeer?”
Wanneer Swartbooi nie werk nie, wat baie selde is, lees hy
graag en hou daarvan om rugby- en krieketwedstryde te volg.
’n Groot hoogtepunt vir Swartbooi was toe hy in 2011 ’n
omgeboude voertuig gekry het wat van Engeland ingevoer is. Dié VW Caddy was
goedkoper om in te voer as om hier te laat ombou.
Die ombouing bring mee dat hy van die agterdeur van die
voertuig tot voor die stuurwiel op sy rolstoel kan beweeg en vandaar met
handkontroles die voertuig bestuur.
Die ombouing is so gedoen dat sy vrou dit ook kan bestuur.
Hy huiwer nie om lang afstande te ry nie, en het selfs al
Windhoek toe gery.
Om sy omgeboude voertuig te leer bestuur, het hy sy bo-lyf
begin versterk en op stil tye al meer en meer geoefen.
“As jy nie probeer nie, gaan jy dit nie regkry nie,”
beklemtoon hy weer.
“Dit is dieselfde met mense wat nie met ’n gestremdheid leef
nie. Hulle kla oor dit of dat wat nie met hulle gebeur nie. My vraag is altyd:
het jy al probeer?
“Prof. Coert de Vries het vir ons as studente geleer: Moenie
met ’n probleem na my toe kom nie; identifiseer dit en kom na my toe met ’n
oplossing. Ek glo daaraan,” sê Swartbooi.