Die dae dat Sakkie se Arkie, die bekende rivierboot op die Oranjerivier by Upington, op die oewer van die rivier kon vasmeer, is getel, het die hooggeregshof in Kimberley beslis.

Regter Violet Phatshoane het Sakkie Spangenberg en sy beslote korporasie, Oranje Watersport, Vrydag (10/02) 60 dae gegun om dié gewilde plesieroord te verlaat, wat hy die afgelope sowat 18 jaar van die Dawid Kruiper-munisipaliteit huur.

Sy het ook ’n uitsettingsbevel bekragtig wat in 2019 in die hooggeregshof toegestaan is, met ’n wysiging dat Oranje Watersport 60 kalenderdae gegun word om te ontruim.

Dié bevel kom ná jarelange regsgedinge wat ook al ’n keer of wat in die appèlhof in Bloemfontein gedraai het.

Dit het begin nadat die munisipaliteit besluit het om nie Oranje Watersport se huurkontrak in 2018 te hernu nie. Die oord moes liewer verkoop word. Tenders is gevra en een van R2,4 miljoen is aan die maatskappy Upington Hotel toegeken. Dié besluit is egter in 2020 met koste deur die appèlhof tersyde­ gestel.

Intussen het Oranje Watersport steeds sy bedrywighede op die rivier en by Olivierpark voortgesit, hangende ’n uitspraak van ’n volbank regters in Kimberley oor die kwessie of die hof wel ’n bevoegdheid het om ’n uitsettingsdatum te kan vasstel.

Phatshoane het bevind dat die hof wat die uitsettingsbevel in 2019 toegestaan het die bevoegdheid gehad het om so ’n datum vas te stel.

Die 18 jaar dat Oranje Watersport die terrein gehuur het, moes in ag geneem word en hy moes ’n redelike tyd gegun word om die oord te verlaat. Die hof het destyds beslis dat die uitsettingsbevel dadelik van toepassing is. Oranje Watersport het hom daaroor weer tot die hof gewend.

Phatshoane het in haar uitspraak gesê die regsgedinge oor dié oord moet nou klaarkry.

Oranje Watersport is nou reeds vier en ’n half jaar by Olivierpark nadat sy huurtermyn met die munisipaliteit verstryk het.

Die beslote korporasie het genoeg tyd gehad om ’n alternatiewe plek te kry. Desondanks meen sy dit sal net regverdig wees om hom ’n verdere 60 dae te gun om te ontruim.

Adv. Marius Snyman SC, in opdrag van Engelsman Magabane-prokureurs, het vir Oranje Watersport opgetree. Adv. Stephen Rautenbach, in opdrag van Haarhoffs Ingelyf, het vir die munisipaliteit opgetree.

In November is berig oor ’n grieweskrif wat aan die munisipaliteit oorhandig is weens kommer oor die bestuur van ontspanningsoorde en infrastruktuur.

Dit het gekom nadat die munisipaliteit die vervalle Die Eiland-vakansieoord agter geslote deure aan ’n private entiteit verhuur het. Olivierpark en Sakkie se Arkie het ook ter sprake gekom.

In die grieweskrif is gemeld dat Sakkie se Arkie ’n “toerismejuweel” met “legendariese status” is wat ekonomiese ontwikkeling stu.

Mike van Rooyen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article