Van die land se beste en bekendste argitekte het in Kimberley by die befaamde Africana-navorsingbiblioteek bymekaargekom, waar sommige vir hul ontwerpe by die Sol Plaatje-universiteit (SPU), ’n private Edwardiaanse woning en gaste-anneks, die DCS-kantoorgebou in Kimberley, asook die restourasie van die beskadigde Bloemfontein-stadsaal bekroon is.
Tydens die geleentheid op Vrydag 12 Julie het die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte (Saia) se tak vir die Vrystaat en Noord-Kaap sy lede se top-ontwerpe van projekte wat tussen Januarie 2021 en Desember 2022 voltooi is, bekroon.
Dit is in Kimberley gehou omdat die meeste wen-ontwerpe in die Noord-Kaap uitgevoer is.
Die bekroondes van die Toekenningsgeleentheid van eerbewyse vir Spesiale Vermelding en Streekeerbewyse vir Uitstekendheid was Makespace Architects, URBA Architects en Urban Designers, Roodt Architects, en MMA Design Studio.
Die wenners van die streekeerbewyse kwalifiseer vir Saia se nasionale eerbewyse.
Makespace het spesiale vermelding ontvang vir die ontwerp van die uitdagende DCS-kantoorgebou in Memorialweg, Kimberley, op ’n driehoekige erf wat wes en op ’n hoofstraat uitkyk.
Die binnehof moedig huurders aan om in die tuin te ontspan en mekaar te leer ken, terwyl die ontwerp die mense teen die son en skerp lig beskerm. Die fasade het geronde hoeke, horisontale lyne en ’n glas-en-staal-ventilasietoring.
Makespace het ook ’n streekeerbewys ontvang vir die ontwerp van ’n Edwardiaanse huis en moderne gaste-anneks in Carringtonweg.
Terwyl die huis se oorspronklike fasade en ontwerp behou is, is dit gemoderniseer deur binnemure uit te breek om lig in te laat en die binnehof te vergroot. ’n Formele nuwe tuin is ontwerp om by die huisstyl te pas.
Die moderne nuwe anneks is aan die noordekant gebou, maar deur slim ontwerp aan die huis verbind. Dié ontwerp het skoon lyne en ’n minimalistiese benadering, asook ’n informele, moderne tuin.
George Schoonraad, ’n Makespace direkteur, sê een van die voordele van die opgeknapte huis was dat die kliënt hul ontwerpe goedgekeur het.
“Ons planne het presies realiseer. Die kliënt het ons ontwerp-idees aanvaar en self waardevolle bydraes gelewer. Hul meubels is spesiaal vir die ruimtes gekies.”
Die firma wat reeds in 2018 aan een gebou by die SPU help ontwerp het, het weer ’n aanstelling gekry vir die ontwerp van die Fakulteit van Omgewings- en Landbouwetenskap, wat aan die einde van die jaar voltooi sal wees.
URBA Architects and Urban Designers het die nuwe ouditorium en kantoorgebou by SPU ontwerp.
Volgens die beoordelaars het die grootse gebou verskeie vertrekke op verskillende vlakke, wat maklik verbind en beweging vergemaklik.
Dit moedig interaksie aan en ’n omgewing wat bevorderlik vir leer is.
Die gebou tref ’n opmerklike balans tussen die formaliteit van opleiding en die jeugdigheid van die studente.
Die gebou laat heelwat natuurlike lig in, wat ’n gevoel van ruimte binne die grense van ’n struktuur skep.
Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse argitek Peter Rich het dié streekeerbewys namens Henri Comrie, argitek, in ontvangs geneem.
Op sy beurt het Roodt Architects van Bloemfontein met die opknapping van die Bloemfontein-stadsaal, wat in 2017 aan die brand gesteek is, ’n storie van veerkragtigheid vertel.
Die sandsteengebou, wat ’n belangrike simbool van die stad is, se restourasie gee ’n gevoel van hoop en vernuwing. Die algemene funksies van die sandsteengebou in sy algemene uitleg is behou terwyl die vorige glorie herstel is. Die nuwe pasgemaakte beligting is gegrond op die historiese agtergrond en gee nuwe betekenis aan die taal van ontwerp, aldus die beoordelaars.
Roodt sê die restourasie en streekeerbewys is ’n groot mylpaal.
“Ek is bly die publiek het die projek so geesdriftig ontvang, bemoedig dat ou geboue nog opgeknap word. Vele mense het hul herinneringe oor die stadsaal met my gedeel.
“Die stadsaal is die hart van die stad, soos dit veronderstel is om te wees. Ons het baie moeite gedoen om alles te herstel soos dit was, maar dit was nie altyd moontlik nie, wat ook goed is. Die atmosfeer adem iets van die oorspronklike.”
MMA Design Studios het die gebou vir die Erfenisstudies en Geesteswetenskappe-fakulteit vir SPU ontwerp.
Volgens die beoordelaars lei die hoofingang jou na ’n binnehof wat as ’n sentrale oriëntasiepunt dien. Die geartikuleerde fasades van verskillende lae en teksture versag die hoogte, en robuuste betonelemente word versag met geverfde mure.
Die grys basis laat dit lyk dit of die baksteengebou dryf. Verstandige beplanning word toegepas in groot ruimtes en kleiner sitplek-ruimtes wat tussendeur voorkom.
Mphethi Morojele van MMA Design Studios sê die “onverwagse” streekeerbewys beteken baie omdat hulle vele uitdagings met dié projek gehad het.
“Net toe ons begin bou, het die SPU hul vereistes verander hoewel die bouwerk steeds moes aangaan. Ons het aan iets gebou wat dus steeds aan die ontwerp was, en dit moes steeds teen die spertyd voltooi wees. Dit het nogal kreatiewe spanning veroorsaak, die voltooiing was ’n wonderwerk.”
Morojele wat in Johannesburg woon, het tydens die projek vele kere in die Noord-Kaapse landskappe vir inspirasie in sy ontwerpe uitgery.


