Vanjaar behoort die jaar te wees waarin maniere gevind sal word om die bose kringloop van inperkings te keer wanneer nuwe koronavirus-variante na vore kom.
Só sê prof. Jeffrey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir navorsing en vernuwing aan die Noordwes-Universiteit.
Volgens hom behoort “paniek-reaksie” teen nuwe variante vanjaar op te klaar, met harde inperkings iets van die verlede.
Soos ander kundiges is hy ook van mening dat nog variante vanjaar hul verskyning sal maak.
“Bestaande inentings bied goeie beskerming teen huidige variante, maar tweedegenerasie-inentings wat ons vir langer tydperke – van drie tot vier jaar – kan beskerm, sal op nuwe variante toegespits moet word,” sê hy.
Opvolgdosisse word reeds oor die land heen toegedien.
Foster Mohale, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, raai diegene wat daarvoor kwalifiseer aan om nie te lank vir hul opvolgdosis te wag nie.
Dit is onder gesondheidswerkers bevind dat ’n opvolgdosis van die Johnson & Johnson-entstof (J&J) doeltreffend is om hospitalisasie te keer indien die virus opgedoen word.
Prof. Linda-Gail Bekker, wat dié navorsing as deel van die Sisonke-studie gelei het, sê die uitslae wys dat ’n tweede dosis op kort termyn 85% doeltreffend teen hospitalisasie is.
“Ons het steeds deurbraak-infeksies gesien, maar verreweg die meeste van die gevalle was matig of asimptomaties. Wat belangrik is, is dat inenting beskerming teen ernstige siekte bied,” sê Bekker.
Wie vir ’n opvolgdosis kwalifiseer, verskil afhangende van die soort entstof wat toegedien is. Mense wat met die J&J-entstof ingeënt is, kan twee maande ná die eerste dosis ’n tweede ontvang. Wat die Pfizer-entstof betref, mag mense eers ses maande ná die tweede dosis ’n derde dosis kry.
Mense hoef nie weer op die regering se elektroniese inenting-datastelsel te registreer om vir ’n opvolgdosis te gaan nie. Slegs ’n identiteitsdokument is nodig.
’n Mens hoef ook nie ’n afspraak te maak nie, en kan net by die inentingsentrum opdaag.
Intussen het ’n tegnologiemaatskappy ’n nuwe app bekend gestel wat werkplekke kan help om te bepaal of inentingsertifikate eg is.
ATG Digital het dié sagteware ontwerp om die QR-kode op die inentingsertifikaat te skandeer wat dan die mens se inentingstatus sal aandui, berig Carla Visagie.
“Ondernemings wat baie streng is oor die inwerkingstelling van verpligte inenting sal selfs die funksie hê om deur ons stelsel iemand te blok om by die werkplek in te kom as hulle nie ingeënt is nie,” sê Megan Oelofse, bemarkingsbestuurder by ATG.
Wanneer iemand oor hul inentingstatus oneerlik is, is daar ’n funksie wat ’n boodskap na die bestuurskantoor sal stuur. Omdat iemand se inentingstatus regstreeks aan hul ID-nommer verbind word, sal dit taamlik akkurate uitslae gee, verseker sy.
Viruskenners voorspel dat die vierde vlaag van infeksies, wat tans in die land woed, van korter duur as die derde vlaag sal wees. Hulle reken dit begin reeds afneem.
Dié kenners meen steeds dat ’n sosiale afstand van 1,5 m, asook goeie ventilasie, van die beste voorkomingsmaatreëls is. Hulle is dit ook eens dat inentings grootliks hospitalisasie verhoed wanneer die virus wel opgedoen is.
- ’n Lys van aktiewe inentingsentrums – meestal by hospitale en apteke – kan op gov.za/active-vaccination-sites besigtig word.