Die ANC se glans in die Noord-Kaap het in die afgelope provinsiale verkiesing soos die straatligte van Kimberley verdof nadat hy, soos in twee ander provinsies, ook hier sy volslae meerderheid verloor het.
Ondanks verkiesingsbaniere wat die party oor die stad se strate gespan het, groot plakkate teen lamppale, goud-, groen -en swart- ballonne in sy “verkiesingsbeheerkamer” en stalletjies waar ANC-klere op die sypaadjie voor die party se hoofkantoor in Kimberley verkoop is, het net 49,34% van Noord-Kaapse kiesers hul kruisie langs die party se embleem op die betrokke stembrief getrek.
Dr. Zamani Saul, ANC-provinsiale voorsitter en premier, het erken die swak uitslae is “ ’n nare wakkerword” en dat hulle “ontevrede” is. Hy bestempel dit egter net as “ ’n klein terugslag” en dat hulle veld sal terugwen “soos in die verlede.”
Die party se provinsiale uitslae het sedert die 2014 verkiesing van 63,8% na 58% in 2019 en nou tot onder 50% gedaal.
Volgens Saul bly die party steeds ’n dominante politieke mag omdat hulle met 195 000 stemme steeds meer stemme het as die vier ander grootste opposisiepartye saam.
Hy ontken dat kiesers vertroue in die party verloor, maar dat kiesers-opvoeding in gebreke bly.
Saul sê een van hul knelpunte is dat te min mense gaan stem het.
“As ons ’n 75% opkoms gehad het, was ons uitslae beter. Verdeeldheid en politieke arrogansie is ook te blameer. Ander mense was waarskynlik nie geneë met die party se vernuwingsproses en ons optrede teen korrupsie nie. Niemand kan onmiddellike resultate verwag van ons vernuwingsproses nie, ons gaan dit nou versterk.”
Hy het verwys na die “terugveg” van splinterpartye soos die African Congress for Transformation-party van Ace Magashule en Jacob Zuma se uMkontho weSizwe-party.
Volgens Saul het die ontwrigting van die pandemie ook die sesde administrasie se werksaamhede ontspoor en is staatsgeld noodgedwonge elders gebruik.
“Tog het die mense ons nie heeltemal verwerp nie.”
Tans heers ’n hangstem omdat die ANC 15 setels van die 30 setels hou, met die opposisiepartye wat saam 15 setels het. Dit beteken die ANC moet met een van die opposisiepartye ’n ooreenkoms aangaan indien hy wil regeer. Met so ’n ooreenkoms sal kompromieë aangegaan moet word voordat die sewende administrasie binne 14 dae ingehuldig moet word.
Saul sê hulle is oop vir onderhandelinge met enige party om ’n meerderheidsregering te verkry. Hy weier om oor die premierskap te onderhandel.
“Ons het steeds ’n populistiese mandaat met die helfte van die setels, en daar kan geen regering wees sonder ons deelname nie.
“Ons moet die verkiesing van die nuwe premier en speaker oorsien en verseker die oorgang verloop glad. Bestendigheid is uiters belangrik vir die mense van die Noord-Kaap.”


