Die Noord-Kaapse wetgewer in Kimberley.

Foto: ncpleg.gov.za

Die eerste nasionale parlementsitting ná die onlangse nasionale en provinsiale verkiesing vind op Vrydag 14 Junie in Kaapstad plaas, waar die nuwe president, speaker en adjunkspeaker onder meer verkies moet word.

Terselfdertyd om 10:00 sal die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer sit, waar wetgewer­lede beëdig word, en die benoeming en verkiesing van die speaker, adjunkspeaker en premier sal plaasvind. Die Raad van Provinsies word Saterdag ingehuldig.

In die Noord-Kaap is daar ’n hangparlement, wat sake kompliseer. Die ANC het net 49,3% van die stemme in die onlangse verkiesing verkry.

Die party het dus 15 van die 30 setels, die DA 7, die EFF 4, die PA 3 en die VF Plus 1.

Die provinsiale ANC moet met een van dié partye ’n samewerkingsooreenkoms aangaan om met ’n meerderheid te regeer. Dié samesprekings hang saam met die gesprekke op nasionale vlak oor ’n regering van nasionale eenheid (RNE), nadat die ANC ook hier sy meerderheid verloor het.

Aard van vennootskap nog onbekend
Wie die ANC se Noord-Kaapse vennoot gaan wees, was teen druktyd nog onbekend. Op navrae is gesê dat ooreenkomste oor die RNE eers afgehandel moet word.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse ANC-leier, het voorheen gesê hulle is onverbiddelik oor die posisie dat sy party die premierspos sal behou. Die drie ANC-kandidate vir die premierspos is: Fufe Makatong, LUR vir paaie en openbare werke; Limakatso Koloi, LP en ’n voormalige burgemeester van die Dawid Kruiper-munisipaliteit en Noord-Kaapse wetgewerlid; en Saul.

Carmen Gopane, woordvoerder vir die Noord-Kaapse wetgewer, sê die premier sal Vrydag onder toesig van regter Pule Tlaletsi, Noord-Kaapse regterpresident, verkies word.

“Ons is nog onseker oor die datum wanneer die opening van die nuwe, sewende wetgewer sal wees.”

Gopane sê die wetgewer het reeds in die sesde administrasie toepaslike reëlings getref vir die totstandkoming van die sewende administrasie, om ’n gladde oorgang te verseker.

“Gedetailleerde planne is in plek vir die eerste wetgewersitting. Alle logistieke en administratiewe aspekte is naatloos hanteer.”

Nuwe Noord-Kaapse wetgewerlede het Dinsdag met opleiding begin. Die tweede gedeelte hiervan vind in die eerste week van Julie plaas.

Die inhoud van die gestruktureerde oriënterings­program en inligtingsessies behels parlementêre prosedures, etiese riglyne, wetgewende verantwoordelik­hede en administratiewe prosesse. Dit behels ook opleidingsessies oor effektiewe kommunikasie, wetgewing en kiesafdelingbestuur, wat verseker dat nuwe wetgewer- en parlementslede goed voorbereid is om hul rol effektief te vervul.

You need to be Logged In to leave a comment.