Swanger vroue en jong ma’s sal waardevolle inligting op die Als mamma en vroue-oggend ontvang.

Foto: Unsplash/Jonathan Borba

’n Als mamma en vroue-oggend word eersdaags aangebied, en swanger vroue, jong en ouer ma’s, oumas, en ook vroue wat verlies en trauma ervaar het, word genooi om die geleentheid by te woon.

Dié geselligheid wat op Saterdag 4 November in Kimberley plaasvind, plaas die fokus op vrouegesondheid in die algemeen, en sluit inligting rakende borskanker­bewusmaking, swangerskap en borsvoeding in.

Swanger vroue en jong ma’s sal waardevolle inligting op die Als mamma en vroue-oggend ontvang.

Oktober is boonop die maand waarin bewusmaking oor swangerskap en babaverlies gedoen word, en oor hoe en waar om bystand hiermee te kry.

Dr. Chantelle de Jager-Wood, wat in borskanker-chirurgie spesialiseer, is een van die gassprekers. Sy gaan ook daardie dag gratis borsskanderings vir belangstellendes doen.

Christel de Lange, ’n dieetkundige, gaan ’n praatjie lewer, asook Su-Ritha Wessels, ’n algemene praktisyn.

Amanda Loots, ’n perinatale-verliesfasiliteerder en spesialis trauma-ontlonter, tree ook op; asook dr. Leandri van Zyl, wat oor postnatale depressie praat.

Trauma en verlies is van die onderwerpe wat op die Als mamma en vroue-oggend bespreek sal word.

Iemand betrokke by Nanny n Me sal gaste se kinders jonger as ses jaar oud met sensoriese speel-aktiwiteite besig hou.

Verversings word op die geleentheid bedien, en uitstallers bied produkte te koop aan.

  • Kaartjies vir die geleentheid, van 10:00 tot 12:30 by die AGS Huis van Restourasie in Constantia-rylaan, Kimberley, kos R150.
  • Hoewel kaartjies ook by die deur te koop aangebied sal word, word dit aanbeveel dat belangstellendes hul plek verseker deur vooraf te koop.
  • Bel Loots by 082-229-3666 of Alizia Hopley by 083-604-4050.

You need to be Logged In to leave a comment.