Noord-Kaapse munisipaliteite skuld Eskom R4,2 miljard. Dit is veel meer as die R2,8 miljard se uitstaande skuld verlede jaar hierdie tyd.
Dit is deur Abraham Vosloo, die provinsie se LUR van finansies, tydens die begrotingsdebat van die provinsiale tesourie bevestig.
Die skuld van die Sol Plaatje-munisipaliteit het byna tot R720 miljoen verdubbel.
“Die situasie is buite beheer, ondanks beloftes van die provinsiale regering, insluitend die premier, om die probleem aan te spreek. Die LUR van Coghsta, Bentley Vass, het in sy begrotingsrede erken dat regeringspogings om munisipale skuld aan te pak, nie die gewenste resultate opgelewer het nie.” Dit is die mening van Michael Kaars, DA-LPW en provinsiale woordvoerder van Coghsta.
Kaars sê in ’n mediaverklaring dit is kommerwekkend dat teen 20 Junie net vyf Noord-Kaapse munisipaliteite om Eskom-skuldverligting aansoek gedoen het, terwyl 23 munisipaliteite versuim om hul skuld te betaal.
Kaars sê voorts die meeste Noord-Kaapse munisipaliteite staan nie ’n kans om aan die voorwaardes vir ’n befondsde begroting, tariewe wat die kostes van dienslewering akkuraat weerspieël en maandelikse uitreiking van gekonsolideerde munisipale rekeninge te voldoen nie. Hulle is ook ver weg daarvan om die vereiste minimum van invordering van eiendomsbelasting en diensheffings te bereik.
Die situasie verg drastiese ingryping om te keer dat dié munisipaliteite verder in die skuld gedompel word. Dit gaan nie net daaroor om Eskom te betaal nie, maar om munisipaliteite van algehele ineenstorting te red, sê Kaars.

