Die dringende herstelwerk wat laat verlede jaar aan die Riverton watersuiweringsaanleg buite Kimberley begin doen is om die stad se waterprobleme te verlig, het in November nog onvoorsiene probleme weens die besoedeling van die Vaalrivier waar water onttrek word, ervaar.
Die stad het die afgelope naweek bykans geen watertoevoer gehad nie, waarna die Sol Plaatje-munisipaliteit dit aan ‘n “menslike fout” toegeskryf het. Die erge watertekorte spruit uit onklaar besinktenks, filters en die verval van meganiese en elektriese toerusting.
Die munisipaliteit kan nie genoeg water na die Newton-opgaardamme in die stad en vandaar na gebruikers pomp nie.
Konsultante en die munisipaliteit werk naarstiglik om dié probleme op te los terwyl dompelpompe by die Newton-aanleg binnekort weer in werking gestel sal word om beskikbare water uit die bodem van die opgaardamme na hoërliggende woonbuurte te pomp.
Dié inligting het aan die lig gekom by die waterberaad wat die munisipaliteit verlede week gehou het.
“Swak instandhouding oor jare”
Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, het erken dat swak instandhouding oor die jare heen die watertoevoerprobleme veroorsaak het, maar sê hulle is toegewy om die aanlegte en pypnetwerk op te knap en sommige gedeeltes te vervang.
Amptenare, raadslede, sakelui en ander rolspelers het kort-, medium en langtermynoplossings vir die waterkrisis en nood-herstelwerk bespreek.
Die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) van R2,5 miljard wat 35 projekte behels om die infrastruktuur oor die volgende sewe jaar op te knap, word deur die tesourie, die munisipaliteit en ander toelaes befonds. Etlike tenders is reeds in die eerste fase toegeken en van die dringende werk moet teen Junie voltooi wees. Die eerste kontrakteurs begin in Februarie werk om die verskeie lekke op die hoofpypleidings te herstel, en om doseringstoerusting by Riverton-aanleg en hooflynwatermeters in diens te plaas.
“Slik gereeld kniehoogte”
Volgens Rikus Rossouw van Bigen Africa wat die konsultante vir die projek is, het hulle verlede jaar sekere ingrypings by Riverton gemaak, waar daar ’n ou en nuwe aanleg is. Die ou aanleg kan in ideale omstandighede 50 megaliter (Ml) water per dag suiwer, en die nuwe aanleg 100 Ml water per dag. Die ou aanleg kan weens probleme net 10 Ml tot 15 Ml gesuiwerde water per dag produseer en die nuwe aanleg tussen 70 Ml tot 85 Ml. Een megaliter is een miljoen liter.
“Ons het reeds sommige vloeimeters in diens gestel waarmee ons meet hoeveel water uit die rivier onttrek word, by die twee aanlegte gesuiwer word en daarna met die grootmaatpypleidings na die stad gepomp word.”
Van Riverton word die water in 900- en 600 mm deursnitpype tot by “Midstasie” gepomp, waar ’n vertakking is en ’n bykomende 600 mm-deursnitpyp ván die water tesame met die 900 mm-deursnitpyp uiteindelik na die Newton-aanleg se vier opgaardamme pomp. Oor die jare heen is aftappypleidings aan dié grootmaatwaterpype gekoppel om woonbuurte op die roete van water te voorsien.
Die hoeveelheid water wat afgetap word, is weens ’n gebrek aan vloeimeters onbekend. Dié vloeimeters word binnekort in diens gestel onder die kontrakte wat toegeken is.
“Teen die einde van Oktober 2023 kon ons reeds die produksie na 100 Ml liter water per dag verbeter deur aanpassings en die vervanging van filtersand by die aanleg.
“Toe ontstaan ’n erge hittegolf in November wat alge wat op rioolafval groei, laat gedy het. Die watersuiweringswerke is nie ontwerp om groot lading alge te hanteer nie. Alge is geneig om op water te dryf en beland in die filters wat verstop word. Die beteken die filters moet meer gereeld gewas word, wat bykomende koste en waterverliese meebring.
“Polimeer flokkulant word gebruik om partikels aanmekaar te laat kleef wat na die bodem sink en in die besinktenks verwyder word. Ons kan dit nie met alge doen nie. ’n Mens kan alge doodmaak, maar dit kan soms ’n reuk en smaak meebring. Geen konvensionele waterwerke in die land is ontwerp om groot ladings alge te verwyder nie. Bykomende prosesse soos koolstoffilters (GAC), opgeloste lugflotasie (DAF) en osoonbehandeling moet bygesit word wat die koste verhoog vanweë besoedeling.
“Ons moet die troebelheid van die water uit die Vaalrivier van sowat 20 nefelometriese troebelheidseenhede (NTU) afbring na 2 NTU tot 5 NTU voordat dit by filters kom, en vandaar verwerk tot onder 1 NTU wat die vereiste is vir gesuiwerde water. Gewoonlik word die water met gravitasie deur die sandbank filters filtreer nadat dit van die besinktenks kom.
“Die besinktenkskrapers wat die slik van die koniese vloer van die besinktenks verwyder, is wanfunksioneel en veroorsaak dat slik oordra na die filters en dit verstop. Die slik op die bodem van die besinktenks is gereeld kniehoogte. Die besinktenks moet een vir een met die hand skoongemaak word.”
Gevorderde pompe nie almal in gebruik
Nog ’n probleem by die Riverton-aanleg is dat die vier hoogs gevorderde pompe wat sowat drie jaar gelede in werking gestel is nie almal gebruik kan word nie weens ’n gebrek aan transformators en gepaardgaande elektriese toerusting. Nuwe transformators word binne die volgende maande in werking gestel sodat drie pompe gebruik kan word indien nodig.
Geoutomatiseerde funksies by die aanleg het ook onklaar geraak en vereis nuwe tegnologie. Kontrakte word vanjaar toegeken om die herstelwerk te doen.
“Nog ’n haakplek is dat die tender om die ou aanleg op te knap, weer adverteer moet word omdat die tenders wat ontvang is, onvoldoende is.
“Dit is ’n onvoorsiene vertraging omdat ons die ou aanleg waar net twee van die vyf filters werk, eerste wou opknap om die kapasiteit te verbeter en dit in werking te stel. Sodra dit beter funksioneer, kan die nuwe aanleg met verdrag opgeknap word,” sê Rossouw.


