Louis Boshoff met die proefkaart wat gedruk is.
Louis Boshoff met die proefkaart wat gedruk is. Foto: Verskaf

‘n Reuse-agterstand bestaan in die druk van bestuurderslisensiekaarte, en van jare se beloftes van ‘n nuwe lisensiekaartdrukker het nog niks gekom nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het daarom vroeër in September ‘n ten volle werkende lisensiekaartdrukker op die departement van vervoer se voorstoep in Pretoria se middestad demonstreer.

Dit was daarop gemik om die departement te wys dat verskeie opsies plaaslik beskikbaar is wat aan al die sekuriteitskenmerke voldoen om sodoende die agterstand uit te wis.

Die proeflisensiekaarte wat AfriForum gedruk het, is van polivinielchloried (PVC), soortgelyk aan die bestaande ID-kaarte, en die minister van vervoer, Barbara Creecy, se gesig pryk daarop.

LEES OOK: Suid-Afrika se krisis met bestuurslisensie-agterstand verdiep terwyl verouderde drukker aanhou faal

Ná ‘n tenderproses vir die verskaffing van lisensiekaartdrukkers het die departement se bod-evalueringskomitee verlede jaar ‘n buitelandse maatskappy, as voorkeurbieër aangewys. Toekenning van dié tender is op ys geplaas nadat aantygings van ongerymdhede by ander kontrakte van dié maatskappy aan die lig gekom het.

Meer as nege maande later is daar geen sigbare vordering in die verkryging van nuwe lisensiekaartdrukkers nie. Creecy het intussen beloof dat die Staatsdrukkery voorbereidings tref om, indien nodig, bystand te bied. AfriForum kon egter by navraag nog geen verdere inligting hieroor inwin nie.

Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, hou vol dat die gesloer onnodig is.

“Verskeie plaaslike diensverskaffers is beskikbaar wat oor tegnologie beskik om die drukwerk te doen,” sê hy.

“Die agterstand in die druk van bestuurderslisensiekaarte is nagenoeg 500 000. Dit kom voor asof die regering nie eens ander werkbare moontlikhede oorweeg nie,” meen Boshoff.

You need to be Logged In to leave a comment.