Nadat afgevaardigdes van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) die Noord-Kaap besoek en gehoor het dat ’n mynmaatskappy al amper sewe jaar lank sukkel om goedkeuring te kry om huise vir sy werkers te bou, is dié versoek uiteindelik goedgekeur.
Die DA in die Noord-Kaap sê hy verwelkom die regering se besluit om die eerste fase van 234 huise van ’n versoek vir 4 000 huise in Aggeneys goed te keur.
Dit sal die internasionale belegging in die Vedanta-sinkmyn in Gamsberg ondersteun.
“Dit sal beslis help om die ekonomie te stimuleer en werk vir die mense van die provinsie te skep,” sê Willie Aucamp, lid van die NRP en DA-kiesafdelingshoof van die Kalahari-distrik.
Hy sê die regering se besluit volg nadat die DA verlede week ernstige kommer uitgespreek het omdat die regering sedert 2015 sloer met ’n besluit oor die hersonering van grond – wat reeds aan Vedanta behoort – vir behuising.
Die Vedanta-myn beoog om 4 000 huise vir sy werknemers te bou wat daagliks tot 200 km van Springbok en Pofadder moet aflê om by die werk te kom.
“Dit sal baie doen om te vergoed vir die gebrek aan verblyf in Aggeneys,” sê Aucamp.
Aucamp sê hy hoop dat dit nie lank sal duur voordat die regering verdere goedkeuring vir die ontwikkeling van die oorblywende huise gee nie.


