Afrikaans as taal se eeufeesviering vind volgende jaar in Mei plaas.

Foto: Verskaf

Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet.

Op 8 Mei 2025 word ’n groot mylpaal behaal wanneer Afrikaans haar eeufees vier.

Afrikaans is reeds baie ouer as 100 jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.

Afrikaans Amptelik 100 vier dié mylpaal; maar Afrikaans se komvandaan strek na die 1500’s met haar eerste klanke deur Khoi-voorouers geskep wat in die kombuis as ’n omgangstaal moes dien.

Afrikaans groei van hier tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skrif in die Bo-Kaap opgeteken word.

Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap.

As een van die jongste tale in die wêreld is Afrikaans een van die mees dinamiese tale wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.

Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land, naas Zulu (24,4%) en Xhosa (16,3%), met meer as 6,5 miljoen moedertaalsprekers in die land.

“Afrikaans is sag soos ’n vrou. Afrikaans kan ook hard wees soos ’n grondpad. Afrikaans is ons ma en ook ons kinders. Afrikaans is Hollands bruingebrand deur die Afrikason, gesnoei en vaartbelyn gemaak deur jare van sensuur en swaarkry,” sê Koos Kombuis.

Afrikaans Amptelik 100 beplan ’n inklusiewe feesjaar wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid bied om deel te word van die fees.

Van nou tot dan is verskeie projekte en aksies saam met medewerkers en vennote om die mylpaal te vier – van skolekompetisies, entrepreneursprojekte, nuwe storieboeke tot kompetisies van liedjies skryf en kosmaak.

Almal se Afrikaans gaan gevier word – van Standaardafrikaans tot Kaapse Afrikaans, van Gariep-Afrikaans tot Afrikaans noord van die Oranjerivier. Dit is juis daardie diversiteit en kragtigheid wat gevier gaan word.

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en-monument, sê die eeufeesvieringe bied die geleentheid en platform om die diverse oorsprong en wortels van dié Afrikataal te herontdek, te vier en te herbesin oor haar verlede, hede en toekoms.

Die span wat Afrikaans Amptelik 100 koördineer, is Giep van Zyl (nasionale koördineerder) en René Arendse (nasionale adjunk-koördineerder).

Indien jy as individu, instelling of besigheid betrokke wil raak, besoek afrikaans100.org en ondersteun die veldtog deur die aanlynvorm te voltooi, of skryf aan info@afrikaans100.org

  • Meer inligting oor onder meer die projek as geheel, die missie en visie, asook vennote wat reeds die manifes geteken het, is te kry op afrikaans100.org.

You need to be Logged In to leave a comment.