By die viering van AfriForum se 18de bestaansjaar is van links Jacques Broodryk (hoofwoordvoerder: gemeenskapsveiligheid), William Waugh (hoof: organisasiebou), Kallie Kriel (uitvoerende hoof), Linda Cronjé (bestuurder: ledevoordele) en Alana Bailey (hoof: kultuursake).

Foto: Verskaf

AfriForum, met meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land, het onlangs sy 18de bestaansjaar gevier.

Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 bekendgestel in ’n berig oor sy stigting wat in Rapport verskyn het. Sedertdien het dié organisasie gegroei en onder meer veiligheidsnetwerke gevestig in die naam van geregtigheid.

AfriForum het 18 jaar gelede met slegs drie personeellede begin; vandag bestaan dit uit 182 personeellede, meer as 10 000 vrywilligers en ’n ledetal van 315 000.

Volgens Kallie Kriel, wat sedert die organisasie se ontstaan aan die stuur daarvan staan, kon die organisasie nie sukses behaal het nie sonder die lede.

“AfriForum se krag oor 18 jaar lê in genade van Bo, maar ook lojale lede en besondere kollegas vir wie hul werk ’n roeping was en is,” sê Alana Bailey, hoof van kultuursake.

Bailey is soos Kriel reeds sedert die ontstaan van die organisasie daarby betrokke.

By die viering van AfriForum se 18de bestaansjaar is van links Jacques Broodryk (hoofwoordvoerder: gemeenskapsveiligheid), William Waugh (hoof: organisasiebou), Kallie Kriel (uitvoerende hoof), Linda Cronjé (bestuurder: ledevoordele) en Alana Bailey (hoof: kultuursake).

AfriForum se eerste groot veldtog wat oor etlike jare gestrek het, was om vir die behoud van Pretoria se naam te veg.

Terwyl die organisasie nog in sy kinderskoene was, het hy die voedselreus Nestlé aangevat nadat dit aan die lig gekom het dat dié maatskappy ’n melkkontrak met die toenmalige Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, gehad het.

Dit ondanks die menseregteskendings wat op daardie stadium in Zimbabwe gepleeg is en die feit dat Mugabe onderhewig was aan verskeie sanksies wat deur Amerika en die Europese Unie teen haar, haar man, Robert, en verskeie ander Zimbabwiese amptenare gegeld het.

Nestlé het kort ná hierdie veldtog begin het, onderneem om nie weer melk by Mugabe aan te koop nie.

Vandag spits AfriForum hom veral daarop toe om selfstandige gemeenskappe te help vestig wat met ’n selfdoeningesteldheid na hul eie gemeenskappe en veiligheid omsien.

Dit beteken dat baie werk op voetsoolvlak gedoen word en AfriForum se 165 takke en 172 buurtwagte gryp hierdie geleentheid met albei hande aan.

“Ek is veral trots daarop dat ons, in talle gemeenskappe met ’n ons-sal-self-benadering, vandag op groot skaal ’n rol kan speel in die bou van ’n toekoms vir ons, ons gemeenskappe en ons nageslag,” sê Kriel.

You need to be Logged In to leave a comment.