As grootmense maar net by die kinders wil leer.
In Matteus 18:1-4 lees ons dat die dissipels vir Jesus vra wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is.
Hierop antwoord Jesus: “As jy nie verander en soos ’n kind word nie, kan jy nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Dit laat ’n mens wonder: Oor watter eienskap beskik kinders wat grootmense moet leer?
Sommige sê hul kinderlike geloof. Ander praat weer van hul onskuld.
Volwassenes moet dus leer om te glo sonder om te bevraagteken.
Vir Jesus gaan dit nie oor ’n bepaalde eienskap waaroor kinders beskik nie, maar veel eerder oor die plek wat hulle op die statusleer inneem.
In daardie tyd het kinders nie getel nie. Hulle was bloot van die Here se genade afhanklik.
Dit is wat God van ons as grootmense vra: geen besondere eienskap nie, bloot afhanklikheid.
Ons moet vergeet van ons status en bloot op Hom vertrou.
“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel” (Matteus 18:4).
Met dié woorde stroop die Here Jesus ons van al ons danige belangrikheid en sê Hy eintlik: Julle verdien niks nie.
Almal is van God afhanklik en gelykwaardig voor Hom.
Hoe anders sou ons samelewing lyk as ons dit maar net wil besef.