Altesame 50 matrikulante van 2021, met ’n onderwysagterstand, kry nou ’n kans op toegang tot tersiêre onderrig danksy ’n voorbereidingsprogram wat die eerste keer in die Noord-Kaap aangebied word.
Die program Access for Success duur ’n jaar en die studente het verlede week daarmee begin.
Dit bied diegene wat die nasionale seniorsertifikaat-eksamen met ’n gemiddeld van minstens 50% geslaag het, sonder vrystelling tot ’n graadkursus, die geleentheid om hul slaagsyfer vir gr. 12-wiskunde en natuurwetenskap te verbeter, met die oog op tersiêre studie in wetenskapsrigtings.
Die eerste groep het volledige beurse ontvang danksy die Sishen Iron Ore Company Community Development Trust (SIOC-CDT) wat in die program belê het.
Hulle is van onder meer Kuruman en Olifantshoek, waar Kumba Iron Ore mynbou-bedrywighede het.
“Die akademiese oorbruggingsprogram skep vir leerlinge met ’n onderwysagterstand ’n tweede kans vir toegang tot tersiêre onderwys,” sê dr. Cerenus Pfeiffer, akademiese hoof van die program en wiskunde-lektor.
Hy was tot onlangs by die opleiding van dosente betrokke en het wiskunde as deel van die SciMathus-program van die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied.
Die program berei die voornemende studente voor op die akademiese eise van tersiêre opleiding in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Talle eerstejaarstudente vind dit uitdagend om by die werklas en tempo van die universiteit aan te pas. Onlangse ontledings toon dit lei tot ernstige deurvloeiprobleme en baie lae slaagpersentasiesyfers, sê Pfeiffer.
Volgens hom word leerlinge van skole met te min hulpmiddele, in plattelandse asook stedelike gebiede, telkens die swaarste deur uitdagings in die onderwysstelsel getref.
Deur middel van die program word die leerlinge gelei en aangemoedig om hul akademiese prestasie te verbeter en toegerus met basisvaardighede wat hulle in staat stel om die gekose opleiding aan ’n tegniese universiteit binne die vasgestelde tyd te voltooi.
Mentorskap en psigososiale steun om die kloof tussen skool en universiteit te oorbrug word ontvang, asook loopbaanvoorligting.
Die onderrig word ten tyde van kontakklasse van die Academy for Environmental Leadership SA (AEL) op die Duin-in-die-Weg-kampus naby Upington gegee.
Na verwagting sal die program volgende jaar uitgebrei word, wat mynboumaatskappye en ander die geleentheid bied om tot die onderriggeleenthede by te dra.