Adré Els (41) is verlede Woensdagoggend dood op sy wildsplaas by Schmidtsdrift aangetref.


Adré Els, jongste seun van wyle Piet Els, multi-miljoenêr en bekende Kimberliet, se lewe sal op Woensdag 13 Julie, ‘n week ná sy dood in Kimberley gedenk word.

Els (41) is verlede Woensdagoggend dood op sy wildsplaas by Schmidtsdrift aangetref. Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het familielede die oorledene om 11:00 op die plaas aangetref. “Hy het ’n wond aan sy kop gehad, en daar was ’n geweer op die toneel. Geen gemene spel word vermoed nie.”

Pieter Els, sy ouer broer, het mense ook op Facebook vir hul ondersteuning en onderskraging bedank. “Namens die Els-familie wil ek graag net almal bedank vir hul omgee, liefde en ondersteuning tydens hierdie ongelooflike seer tyd! Elke gebed, elke boodskap, elke oproep word opreg waardeer.”

Die gedenkdiens is om 10:00  in die Taberna Dei Diamantstad.

Huldeblyke het op Facebook ingestroom.

Minette Swiegers, ‘n naby vriendin wat ook vir hom gewerk het met ‘n emotikon aangedui dat haar hart gebreek is. Sy het ook geskryf:  “My Janneman, ek verlang so baie.”

Tiaan Van Wyk het ook sy meegevoel betoon. : “Ek’t nou gebid vir Adré laat hy met Jesus is. Ek glo hy is met Jesus aan sy voete. Amen.”

Frank Warren beskryf Els as nederig: “Het nog nooit so nederige mens in my lewe ontmoet nie. Was ‘n voorreg om jou te ontmoet. Rus sag by die voete van God.”

Els was onder meer ‘n wildboer, eiendomsontwikkelaar en het ‘n restaurant in Kimberley besit.

Piet Els, Adré se pa, wat ‘n bekende in diamantkringe en ‘n boer was, is in 2018 op sy plaas buite Kimberley vermoor. Die jonger Els het vroeër vanjaar in die verhoor teen die sewe beskuldigdes getuig. Dié aanval op die nag van 23 Januarie 2018 in Els (86) se huis op sy plaas Carters Ridge net buite Kimberley het opspraak verwek weens die wreedheid van die aanval waarin hy gemartel en sy vriendin (67) na bewering met ’n strykyster gebrand is. Els het weke later in die Mediclinic Gariep aan sy wonde beswyk.

In die verhoor het Els getuig oor die polisie se fonds van sy pa se trouring, waaruit die diamant verwyder is. Sy pa het ook vir oud-pres. Jacob Zuma ontmoet. Els, was geskei is, het ook getuig sy eie trouring is uit sy pa se kluis gesteel.

Els het ná sy pa se dood die bekende Star of the West, een van Kimberley se oudste kroeë opgeknap en ‘n restaurant gebou. Hy en sy ouer broer Pieter is ook by eiendomsontwikkeling betrokke. Hul ma is in ‘n motorongeluk oorlede toe hulle jong mans was.

Wiaan van der Linde, ‘n mede-wildboer, sê Els se heengaan laat ‘n groot leemte in die bedryf. “Hy was tien jaar in die bedryf en het onlangs wild op die Wiro Wildswinkel-veiling verkoop. “Hy het as Els Game Breeding  ‘n baie belangrike rol gespeel deurdat hy wildboere in moeilike tye geweldig ondersteun het deur hul genetika aan te koop. Dit is nie goed om jong boere soos hy te verloor nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article