Die wyse waarop die adjunkminister van water en sanitasie op Dinsdag 22 Julie deur politieke en administratiewe ampsdraers van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley op “kinderagtige wyse” by ʼn vroegoggend-vergadering afgejak is, is skreiend.
Só sê Sello Isaac Seitlholo, die adjunkminister, wat Dinsdag gal gebraak het oor die betrokke ampsdraers se kil houding jeens hom en die munisipaliteit se probleme met die rioolinfrastruktuur.
Die adjunkminister is op ʼn besoek aan verskillende Noord-Kaapse munisipaliteite om die wankelende rioolinfrastruktuur en gevolglike besoedeling te ondersoek.
Seitlholo sê hy gaan die Noord-Kaapse premier en die minister van samewerkende regering spreek oor sy kil ontvangs deur ampsdraers wat hy aan politiekery toeskryf.

Gebrek aan respek toon nie-omgee
“Dis ʼn skande dat nóg die burgemeester, nóg ʼn burgemeesterskomiteelid, nóg die munisipale bestuurder nie saam met my die wanfunksionele Homevale-watersuiweringsaanleg en besoedelde Kamfersdam besoek het nie. Die gebrek aan respek weens politiekery toon dat ampsdraers nie eintlik vir die stad en sy mense se welstand omgee nie.”
Die aanleg het ‘n kapasiteit om 48 megaliter (ML) rioolwater per dag te behandel en ontvang 30 ML per dag. Slegs 15 ML afvalwater word daagliks gesuiwer weens wanfunksionele meganiese en elektriese komponente, wat vererger word deur diefstal en vandalisme.
Onbehandelde afvalwater stroom in die reeds oorvol Kamfersdam en ʼn Transnet-vragspoorlyn is in onbruik weens oorstroming. Die kleinflamink-bevolking wat eens in hul derduisende op die pan geleef het, het lankal verdwyn.
“Net twee amptenare het saam met ons die aanleg en pan besoek. Hulle het egter geen finale besluitnemingsmagte om sake reg te ruk nie.
“Die grootste kommer is die ekonomiese verliese. Transnet en Noord-Kaapse myne ly miljarde rande se verliese omdat erts nie meer per spoor vervoer kan word nie. Die Ekapa-myn se pomptoerusting in die pan is onder water en word deur die elemente weggevreet.”

Seitlholo se departement is besig om die nasionale waterwet aan te pas en in lyn te bring met die nasionale omgewingsbestuurswet sodat munisipale bestuurders wat hul plig versuim strafregtelik in persoon aangekla kan word.
“Ons gaan ons eie ondersoeke doen en bewysmateriaal aan die polisie vir vervolging oorhandig. Die departement het amptenare al aangekla, soos in die geval van die Govan Mbeki-munisipaliteit in Mpumalanga. Die munisipaliteit is ook beboet weens die besoedeling wat hulle veroorsaak.”
Vraagteken oor R1 miljard-behuisingsprojek
Seitlholo wil ook uitvind of die Noord-Kaapse regering en die munisipaliteit wat ʼn behuisingsprojek van R1 miljard in die provinsie bekend gestel het, omgewingsinpakstudies in plekke soos Roodepan gedoen het.
Die studie moet veral die gevolge van bykomende huishoudings op die reeds wanfunksionele watersuiweringsaanlegte ondersoek en aanbevelings maak.
“Ontwikkeling soos dié kan net voortgaan indien daar ‘n omgewingsimpakstudie gedoen is, in samewerking met departemente soos menslike nedersettings, asook water en sanitasie. Nuwe ontwikkelings kan nie voortgaan nie totdat die watersuiweringswerke opgeknap is of nog ’n aanleg gebou is nie. Dit is waar samewerking tussen verskillende departemente en plaaslike regering belangrik is.”
Sello Isaac Seitlholo, adjunkminister van water en sanitasie
Volgens die minister het die munisipale bestuurder erken hulle is tegnies bankrot.
“Al word hofbevele en direktiewe uitgereik, kan die werk weens geldtekorte nie gedoen word nie. Die oorsaak van die krisis moet opgelos word, waarna verdere regstellende stappe gedoen moet word om die skade te beperk.
“Dis verstommend dat ampsdraers hoed-in-die-hand vir ons geld vra om opknappingswerk van R106 miljoen te doen, maar in dieselfde asem word my departement afgejak weens politiekery.
“Indien die munisipaliteit sy jaarlikse waterverliese van 50% – wat R170 miljoen kan inbring – kan oplos, het hy baie meer inkomste om self sy opknappingswerk te doen. Dan sal dit vir die departement makliker wees om ook handjie by te sit. Huwelike slaag net as albei partye aan die verhouding werk.”
Hy sê die Sol Plaatje-munisipaliteit “benodig ’n toegewyde burgemeester wat leiding neem, voorstelle deur die raad laat goedkeur om probleme op te los, en dit daadwerklik deurvoer.
“Suid-Afrika sal floreer as munisipaliteite reg funksioneer, en gekwalifiseerde mense in diens neem wat toegelaat word om hul werk te doen, wat uiteindelik beleggers sal lok.”




You must be logged in to post a comment.