Kameeldoring: Aarde gee as jy omgee

“It is impossible to have a healthy and sound society without respect for the soil,” het die aktivis Peter Maurin gesê.


“It is impossible to have a healthy and sound society without respect for the soil,” het die aktivis Peter Maurin gesê.

Verlede week se milde reën was byna te veel vir die versadigde aarde.

Onder die wasgoeddraad waar ’n dam op die grasperk gevorm het, het ’n paar erdwurms verdrink. ’n Vindingryke akkedis trippel op die oorhangende skadunet, leun oor die nat grashalms en gaps ’n erdwurm.

Die een se dood is die ander se brood, ’n ekostelsel in die kleine. Erdwurms en ander organismes gee op hul beurt lewe aan die grond; voedingstowwe waarop groente gedy.

Soggens dwing my tuin my na buite om te kyk wanneer die aartappels knolle gaan maak, of ek murgpampoentjies kan oes, of die spinasieblare vir die vegetariese pizza genoeg gaan wees, of die pers wortels al lyf gekry het. Ek wonder hoe dit is dat ’n seldery hom tuis gemaak het sonder dat ek hom geplant het, besef die mielies is te vroeg geplant en verwens die muisvoëls wat die eerste perskes gekry het.

Tuinlewe is soos die teater, die grond die verhoog. Sonder vrugbare grond sal ons ook nie wees nie. Grond gee ryklik, solank jy teruggee. Alle takke, grassnysels, blare, skille en doppe moet as deel van die lewensiklus aan die grond en sy organismes teruggegee word.

Grond is nie ’n reg nie. Dit is ’n verantwoordelikheid. Die aarde gee, solank jy omgee. Dit koester en versorg, maar mag nooit net ’n aardse besitting wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.