Masels is nou in al nege provinsies aangemeld, en is veral gevaarlik vir kinders jonger as twee jaar.Foto: Unsplash/Kristine Wook


Masels kom nou in al nege provinsies voor nadat ’n uitbreking van die siekte in Oktober verlede jaar in Limpopo aangemeld is.

Luidens die nuutste inligting van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is 318 gevalle van masels van die eerste week in Oktober tot 31 Desember 2022 oor die land heen aangemeld.

Nios klassifiseer ’n uitbreking van masels as daar binne 30 dae van die aanvang van die siekte in ’n distrik drie of meer gevalle aangemeld is wat in ’n laboratorium bevestig is.

Die eerste gevalle is in die Sekhukhune­-distrik van Limpopo aangemeld, waarna dit na die Mopani-distrik versprei het.

Die hoogs aansteeklike siekte het toe na die Bosbokrand-gebied in Mpumalanga versprei.

Die meeste gevalle (131) is in Limpopo aangemeld. In Noordwes is 80 gevalle aangemeld en in Mpumalanga het 69 mense masels opgedoen.

In Gauteng was daar 14 gevalle. Die Vrystaat is ’n kortkop agter met 11 gevalle.

Vyf gevalle is in KwaZulu-Natal (KZN) aangemeld, vier in die Wes-Kaap, drie in die Noord-Kaap en slegs een in die Oos-Kaap.

Volgens Nios is die meeste gevalle, 127 oftewel 42%, in kinders van vyf tot nege jaar oud aangemeld. Altesaam 90 gevalle, oftewel 30%, was by kinders van een tot vier jaar oud.

By kinders van tien tot 14 jaar oud is die minste gevalle, 47 oftewel 15%, aangemeld.

Nios het slegs 71 mense wat masels opgedoen het se inentingstatus. Van die 71 mense was slegs 28 teen die siekte ingeënt.

Masels word deur ’n virus, rubeola, veroorsaak en versprei wanneer ’n besmette mens hoes, nies of praat.

Die besmette speekseldruppels bly in die lug en word deur ander ingeasem.

Van die simptome is ’n hoë koors en ’n veluitslag van rooi, plat knoppies.

Dit vorm nie blasies nie en is ook nie jeukerig of pynlik nie.

Nog simptome is rooi, tranerige oë, ’n loopneus en gehoes.

Die siekte is veral gevaarlik vir kinders jonger as twee jaar oud en vir kinders wat aan wanvoeding ly.

Inentings word gewoonlik onder kinders van ses maande tot ’n jaar oud toegedien.

Nios het ’n beroep op die publiek gedoen om kinders teen masels te laat inent. Hulle het ook dokters gemaan om bedag te wees op maselgevalle.

Die departemente van gesondheid in al nege provinsies is besig met inentingsprogramme.

Marietie Louw-Carstens

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article