Aanpassings voordelig

Sekere eenvoudige aanpassings aan jou leefwyse kan jou energievlak, finansies en reiservarings verbeter.


Sekere eenvoudige aanpassings aan jou leefwyse kan jou energievlak, finansies en reis-ervarings verbeter.

Vir die beursie

  • Moet nooit op ’n leë maag kruideniersware koop nie.
  • Ondersteun liefdadigheidswinkels. Jy sal verbaas wees hoeveel skatte jy daar kan vind.
  • Bekyk jou bank- en kredietkaartstate en gaan al jou transaksies en aftrekorders noukeurig na. Kuberkullers vang jou dikwels met ’n debietorder van ’n klein bedrag wat jy nie altyd opmerk nie of waarvan jy nie in kennis gestel word nie.
  • Vee al die aanlyn klerewinkel-apps op jou foon uit as jy tot impulsiewe kuberkooptogte geneig is.
  • Dien jou belastingvorm ’n maand vroeër in as wat jy dit gewoonlik doen.
  • Loop lig vir geldsmouse wat welvaart en geloof meng.
  • Bestee minder geld aan besittings en meer aan ervarings. Jy het nie die nuutste tegnologiese foefie nodig nie.
  • Kanselleer jou gimnasium-lidmaatskap as jy nie minstens drie keer per week daar uitkom nie. Gratis oefen-apps en bekostigbare oefentoerusting stel jou in staat om tuis te oefen.

    Vir die huis


  • Braai meer, selfs op weekdae.
  • Gebruik jou erf-breekgoed en deftige eetservies wat in die trousseaukis stof vergader.
  • Lees die boeke wat jy wil, nie wat jy (of jou vriende) dink jy moet nie. As jy nie daarby uitkom nie, luister na ’n oudioboek op pad werk toe.
  • Lees meer kinderboeke, selfs al is jou kinders groot.
  • Herontdek die behaaglikheid daarvan om net mooi niks te doen nie.
  • Vul blokkiesraaisels in.
  • Belê in die beste matras en linne wat jy kan bekostig. Jy bring immers ’n derde van jou lewe daarop deur.
  • Koop vir jouself minstens een keer ’n maand vars blomme.

    Vir reise


  • Maak seker jou medisynetassie bevat iets vir maagsiektes, insekbyte en seer spiere. Voeg ’n breëspektrum-antibiotika by as jy die boendoes invaar.
  • Bespreek direk by ’n hotel of gastehuis eerder as deur ’n middelman. Hulle sal dikwels vir jou ’n beter tarief bied.
  • Moenie skaam wees om afslag te vra nie, veral wanneer jy buite seisoen of in die middel van die week reis. Baie plekke het spesiale tariewe vir Suid-Afrikaners, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings­gemeenskap en pensioentrekkers.
  • Neem die premium-reisversekering. As dinge in die vreemde skeefloop, sal jy dankbaar wees.

Saamgestel deur Carla Lewis

You need to be Logged In to leave a comment.