Aanpassing by nuwe skooljaar só vergemaklik

Die skole in die Noord-Kaap is nou net meer as ’n week oop vir die skooljaar van 2022. Die begin van die nuwe skooljaar is vir baie ouers en kinders oorweldigend; die vinnige pas waarteen alles gebeur, is ’n uitdaging.


Die skole in die Noord-Kaap is nou net meer as ’n week oop vir die skooljaar van 2022. Die begin van die nuwe skooljaar is vir baie ouers en kinders oorweldigend; die vinnige pas waarteen alles gebeur, is ’n uitdaging.

Elize Janse van Rensburg, ’n pediatriese arbeidsterapeut en mede-eienaar van die Sensory Roots Occupational Therapy-praktyk in Bloemfontein, deel ’n paar wenke wat sal help om die aanpassing so glad en maklik moontlik te laat verloop.

Roetine

Probeer om almal so gou moontlik weer in ’n gemaklike roetine te vestig. Wanneer kinders by die eise van ’n vol program moet aanpas, is ’n gemaklike en voorspelbare roetine goud werd om almal weer te help aanpas.

  • Vir jong kinders help ’n visuele herinnering van hul roetine soms om dit te hervestig. ’n Reeks prentjies met die oggend- en aandroetine, of ’n kaart wat die hele roetine van die dag met prentjies aandui, is maklik om te maak. Afgehandelde take kan afgemerk word deur dit toe te plak of ’n magneet daarop vas te sit as jou prentjies op die yskas geplak is.
  • Met ouer kinders is dit soms nodig om vir die nuwe skooljaar ’n nuwe roetine te skep. Deur ouer kinders deel te maak van besluite rondom die roetine, insluitend hul slaaptyd, opstaantyd en verantwoordelikhede in die huishouding, kan hul inkoop in die roetine verhoog word.

Slaap

Genoegsame slaap is noodsaaklik vir jonk en oud om optimaal te funksioneer. Maak seker dat die gekose roetine goeie slaap ondersteun, om die aanpassing by die nuwe skooljaar gladder te laat verloop. Wanneer kinders uitgerus is, kan hulle beter konsentreer, inligting beter verwerk en hul emosies beter reguleer.

  • Beperk skermtyd voor slaaptyd. Navorsing toon dat blootstelling aan skerms voor slaaptyd ’n negatiewe invloed op die gehalte van slaap het.
  • Probeer om die roetine voor slaaptyd daagliks dieselfde te hou vir jong kinders wat sukkel om met slaaptyd tot ruste te kom. ’n Rustige, warm bad gevolg deur spesiale tyd saam met mamma of pappa skep ’n kalm atmosfeer voor slapenstyd.

Kos

’n Gesonder dieet is na bewering een van die drie gewildste nuwejaarsvoornemens onder volwassenes.

Dit is waarskynlik ook ’n goeie voorneme om by kinders se lysies te voeg, want dit ondersteun alle fasette van hul ontwikkeling.

  • Hoewel ’n goeie ontbyt die brein daagliks ’n hupstoot gee, is nie alle kinders lief daarvoor om soggens vroeg ontbyt te eet nie. Eksperimenteer met alternatiewe tot wat gewoonlik vir ontbyt aangebied word om soggens heilsame voeding te voorsien. ’n Vrugte- en jogurtskommel of tuisgemaakte ontbytstafies kan dalk net jou kind aanmoedig om wel voor skool iets te eet. ’n Ander wenk vir onwillige ontbyt-etertjies is om die aand voor die tyd reeds ooreen te kom wat hulle die volgende oggend vir ontbyt wil eet. ’n Visuele voorstelling, amper soos ’n prentjie-spyskaart, kan hulle help om toepaslike keuses uit te oefen.
  • Probeer om ’n heilsame kosblik te pak, maar pak ook in volgens waarvan hulle hou.

Aktiwiteitsprogram

Met die nuwe jaar kom daar ook nuwe keuses rondom buitemuurse aktiwiteite. Wanneer jy namens, of saam met, jou kind keuses rondom deelname aan aktiwiteite moet uitoefen, probeer om te streef na ’n gesonde balans tussen aktiwiteite en vrye tyd.

  • Die belang van speel by jong kinders kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is van uiterste belang dat kinders genoeg tyd in hul dag moet hê om te speel. Dit is nie gesond vir ’n gr. 1-kind se fisieke of emosionele welstand om elke uur van die dag met formele aktiwiteite besig te wees nie. Speel is ’n kind se heel belangrikste werk, en die plek waar sosiale, emosionele, kognitiewe en fisieke ontwikkeling alles saam gebruik word om noodsaaklike lewensvaardighede vas te lê.
  • Fisieke aktiwiteitsdeelname is ’n belangrike deel van kinders se algehele welstand. Pak die aanpassing by die nuwe jaar aan deur ook te oorweeg hoe jou kind aan fisieke aktiwiteite kan deelneem. As jou kind nie tradisionele spansportsoorte geniet nie, kan ’n individuele aktiwiteit soos dans, karate of gimnastiek dalk vir hulle lekker wees. Moenie moed opgee as die eerste aktiwiteit nie aftrek kry nie. Blootstelling aan ’n verskeidenheid aktiwiteite skep die geleentheid om te eksperimenteer met waarvan hulle hou en waarvoor hulle dalk ’n verskuilde talent het.

Aflaaityd

As jou peuter, kleuter of jong kind vanjaar by ’n nuwe omgewing moes begin skoolgaan, is trane met aflaaityd nie ongewoon nie.

  • Probeer om jou kleinding so goed moontlik voor te berei op wat voorlê. Vertel vir hulle wat gaan gebeur, en sluit besonderhede in wat vir jou kind belangrik sal wees. As hulle lief is vir diere, vertel vir hulle van al die diertjies in die klas, of as hulle van inkleur hou, gesels oor die kryte of potlode in die klas en wanneer hulle dit kan gebruik. As jou kleinding van stories hou, kan jy selfs oorweeg om ’n storieboekie te maak met ’n storie oor hul skool, en dit gereeld vir hulle voorlees.
  • Help jou kleinding om ’n spesiale rede te hê om skool toe te gaan. Bespreek dit egter eers met jou kind se onderwyser sodat jy seker is dat hulle dit ondersteun. Jy kan byvoorbeeld vir jou kind vra om die juffrou met ’n spesifieke werkie by die skool te gaan help, soos om plante water gee, troeteldiere te voer of speelgoed uit te pak, of om iets spesiaals vir jou by die skool te gaan doen, soos om ’n spesifieke prentjie te teken of in te kleur. Soms help dit om tuis saam ’n prentjie te teken, koekies te bak of ’n armbandjie met krale te ryg wat jou kleinding die volgende oggend vir juffrou kan gaan gee. As die aandag op iets anders is, is die ingaan by die skool makliker.
  • Kom mooi met jou kleinding ooreen wanneer jy hom of haar gaan kom haal. Maak seker jy is betyds, en dat jy by jou beloftes hou. Indien onvoorsiene omstandighede opduik, laat weet jou kind se juffrou sodat sy jou kleinding op die verandering kan voorberei. Dit help om hul vertroue in jou daarwees te behou en volgende aflaaigeleenthede te vergemaklik.

Bloemnuus

You need to be Logged In to leave a comment.