’n Spesiale boek vir aanneemouers en -kinders is deur die bekende kinderboekskrywer Jaco Jacobs geskryf en bekend gestel.
“Ons het gewens en gewens vir iemand net soos jy. ’n Spesiale iemand wat by ons kan kom bly,” skryf Jacobs in Jy is ’n wens.
Hierdie prenteboek vertel op ’n deernisvolle en prettige manier die storie van gesinne wat kinders aanneem. Dit is die perfekte wegspringplek vir ouers wat met kinders oor aanneming wil gesels, en dit help kinders om te verstaan dat elke gesin spesiaal is – al lyk hulle nie noodwendig dieselfde nie.
Die boek het pragtige illustrasies en ’n eenvoudige boodskap, en verskeie wenke vir aanneemouers kan aan die agterkant gevind word.
Dit is in Afrikaans en Engels beskikbaar en kan by alle groot boekhandelaars gekoop word, of direk by Engo Vrystaat teen R150 per boek.
Jy is ’n wens word ten bate van Engo verkoop.
Engo is ’n nie-winsgewende en nie-regeringsorgansie wat maatskaplike hulp aan individue en gesinne verskaf, en onder meer by die hantering van aannemings en hulp aan aanneemgesinne betrokke is.
- Belangstellendes kan ’n e-pos na info@engo.co.za stuur of 060-548-5543 skakel.