Van die gesteelde en gebrande koperkabels wat in die drie verdagtes se besit gevind is.

Foto: Verskaf

Drie verdagtes wat glo oor ’n tydperk van drie dae koperkabels by ’n besproeiingspomp op ’n plaas naby Hopetown gesteel het, is Donderdag 9 November vasgetrek.

Die verdagtes is Donderdag omstreeks 04:00 op kameras van ’n waarnemingstelsel opgemerk, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is.

Lede van die polisie in Hopetown, met die hulp van die plaaseienaar en Oranje Sekuriteit, het op die verdagtes toegeslaan terwyl hulle in ‘n wegkomvoertuig op die R359-pad naby Hopetown gery het.

Die polisie het beslag gelê op die gebrande koperkabels, asook die wit Renault Cleo wat na bewering in die uitvoer van die misdaad gebruik is.

Die drie verdagtes, wie onderskeidelik 31, 41 en 44 jaar oud is, is in hegtenis geneem en van diefstal van koperkabels, en die peuter of beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur aangekla.

Van die gesteelde en gebrande koperkabels wat in die drie verdagtes se besit gevind is.

Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, het die inhegtenisneming van die verdagtes en die terugwin van die koper verwelkom. Otola sê die bekamping van misdaad wat verband hou met die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur bly ’n saak van voorkeur vir die polisie in die Noord-Kaap.

Die distrikskommissaris van die Pixley Ka Seme-distrik, genl.maj. Nomana Mtukushe, het die polisielede van Hopetown en die gemeenskap vir ’n perfekte vertoning van vennootskapspolisiëring geluk gewens.

You need to be Logged In to leave a comment.